Kobus! - 100% Skuldgevoelvry

Die hoenderman? Iewers het jy of enige iemand wat 'n poging aanwend om sy ore te stimuleer met Afrikaanse musiek dit al gehoor – die hoenderman. Ek weet verseker dat na ek blootgetsel was aan Kobus! op een wintersaand by Armchair Theatre in Observatory ek vir alles en almal vertel het van my, of Afrikaanse musiek, se nuwe fonds.

Dit was in my opinie iets nog nie gedoen nie, 'n vrug uit wes-oos Suid-Afrika wat niemand nog geëet het nie. Maar tog het jy dit nie gehoor op elke radiostasie nie, wat op sigself nie veel se nie – as dit nie die woord baby bevat en 'n koor stem trillende en jillende afrika amerikaanse dames bevat nie word dit in elk geval nie gespeel nie – nie eers Niekie nie.

Nog minder het jy hul saam met Steve gesien en gewonder of dit regtig is hoe dit moet wees? En ek is seker die volk van main is verjeug dat hul ook nie op Belboks te siene was nie. Daar was ook geen revolusie wat 'n menigte van konsistorie fondamente geskud of hul naam het ook nie die plaaslike rebellie studente radio omroeper 'n kans gegee om 'n bietjie kras te praat nie op die lug soos met Fokofpolisiekar nie. Hierdie publisiteits tekortkominge het 'n mens soms laat twyfel of jy hul weer sou hoor en dit het jou opnuut laat gal braak oor dwase skape wat sorg dit daar nou al 'n Bokjol Treffers 9 bestaan.

Was ek nie opnuut verras en kinderlik opgewonde toe ek my taai vingertjies op Kobus! se nuwe vrystelling kry nie: 100% Skuldgevoelvry. Dit is daai onbekende vrug met roomys by en soms drup daar van ouma se tuisgemaakte vla ook oor. Dit het die lang pad na my plek van arbeid en slawerny daagliks laat korter word en my glimlag was lank nog na teetyd daar. Soms het ek oppad huistoe 'n ekstra keer om die blok gery om die storietjie van die duiweltjie & engeltjie klaar te luister. Telkemaal moes vroulief haar Egoli inspuiting opsy skuif sodat ek vir haar van Oom Kobus se plan kan vertel. Ek het ietwat bekommerd geraak want ek was vinnig besig om te veel te luister en kon dit vir myself ruineer soos die baspomp heringenieur platejoggies 'n goeie song soos Beautiful in Beaufort-Wes van Gert Vlok Nel kon mismaak.

Ek luister dit vandag nogsteeds en die glimlag is nogsteeds daar. Nie almal sal dieselfde voel nie of dit so geniet nie. As jy vaagweg belangstel skaf dit aan. Sommiges sal frons as ek die fonds so wyd verkondig – party luister net omdat niemand anders luister nie – dit maak hulle spesiaal voel. En dit kan die vrug deur jou vingers laat glip en die skape laat feesmaal en jy eet tog nie skaapkos nie.

Al verkoop Kobus! meer as oom Steve en al smul die skape lekker – smul ek heerlik saam - ek sal uitspoeg as dit nie meer lekker smaak nie.

Sien jou weer.

Poenjappie